3 Dorethea Avenue, Kameeldrift Wes, Pretoria

072 594 5989 info@beehiveohs.co.za

Jong man verdrink in wyntenk

James Williams (23)

Veronica Williams praat gister oor haar enigste seun se dood op die wynlandgoed Thelema. Foto’s: Edrea du Toit

’n Groep plaaswerkers van die wynlandgoed Thelema in Stellenbosch is in rou gedompel en moet traumaberading ontvang nadat een van hul kollegas in ’n wyntenk dood is.

James Wil­liams (23) van Kylemore het glo in die tenk beland toe hy met die mos daarin gewerk het. Dit het Saterdag omstreeks 07:00 plaasgevind, het sy ma, Veronica, gister vertel.

“Hy het die afgelope nege maande op Thelema gewerk, maar het al tevore ook daar gewerk. Gewoonlik neem dit hulle sowat ’n uur op ’n Saterdag om die tenke skoon te maak. Hy is Saterdag om 06:40 by die huis uit, maar hy het nie soos gewoonlik ná 08:00 weer by die deur ingestap nie. Ek het toe geweet daar is fout.”

Volgens Veronica is haar ergste vrese bewaarheid toe een van die plaas se bestuurders later die oggend die tyding bring.

“Ons is self nie seker wat presies daar gebeur het nie. Die vermoede is dat hy as gevolg van die walms weens gisting bedwelmd geraak en toe in die tenk beland het. Twee van sy kollegas het dit aanskou en is steeds geskok.”

Volgens Veronica voel dit nog onwerklik dat haar enigste seun dood is, maar sy is nie kwaad nie. “Hy is nie in ’n skietery dood of by ’n kuierplek vermoor nie. Hy is dood terwyl hy sy werk gedoen het.”

’n Jong plaaswerker is in een van die wynlandgoed Thelema se wyntenke dood. Foto: Edrea du Toit

Williams se pa, Goliath, wat ook jare lank op Thelema gewerk het, het gister sy seun se begrafnisreëlings getref en was nie tydens Die Burger se besoek tuis nie.

Rudi Schultz, ’n senior wynmaker op die landgoed, het namens die bestuur gepraat. Volgens hom sou Williams einde Maart vas aangestel word.

“Ons is almal geraak deur sy dood. Die werkers is almal soos een groot familie. Hulle almal is getraumatiseer, maar ons het reeds reëlings getref vir behandeling. Ons wag nog op die polisieverslag om die oorsaak van sy dood bekend te maak.”

Lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, kon nie teen druktyd die voorval bevestig nie.

Williams word deur vier susters en sy ouers oorleef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

CONTACT US